Bosluiskoors steeds nommer een moordenaar!

Dr W J Grobler BVSc


  1. INLEIDING
  2. SIMPTOME
  3. DIAGNOSE
  4. BEHANDELING
  5. VOORKOMING
  6. OPSOMMING

1. INLEIDING

Daar bestaan heelwat ooreenkomste tussen bosluiskoors en 'n siekte onder mense wat deesdae nogal in die nuus is malaria. Net soos met malaria die geval is word bosluiskoors deur 'n eensellige organisme veroorsaak wat die rooibloedselle binnedring en bloedarmoede tot gevolg het. In beide siektes kan die dood volg indien 'n korrekte diagnose nie gemaak en gepaste behandeling nie toegedien word nie.

Bosluiskoors is ook bekend as galkoors aangesien diere soms geelsug ontwikkel. Die eensellige organisme verantwoordelik vir die siekte (Fig. 1) word deur die geel hondebosluis (Fig. 2) oorgedra aan 'n vatbare hond waarna die organismes die dier se rooibloedselle binnedring. Die organismes verdeel baie vinnig binne die rooibloedselle met gevolg dat besmette selle f bars f deur die milt uit die bloedstroom verwyder word.

Bosluiskoorsorganismes in die rooibloedselle

Fig. 1: Bosluiskoorsorganismes in die rooibloedselle van 'n hond. (ongeveer 2000 maal vergroot)


2. SIMPTOME

Indien die afbraak van rooibloedselle vinnig plaasvind, beland 'n groot hoeveelheid van die rooi kleurstof in die selle (hemoglobien) in die bloed en kan soms in die dier se uriene waargeneem word. (bosluiskoors in honde en rooiwater in beeste word deur soortgelyke organismes veroorsaak) Hierdie rooi kleurstof word deur die lewer omgeskakel in galsoute wat in die derm uitgeskei word indien die lewer normaal funksioneer en verklaar hoekom baie honde met bosluiskoors 'n los geel stoelgang het. Wanneer die bloedarmoede erger word kan die lewerselle egter opswel en dus nie meer galsoute afskei nie, vandaar die geelsug wat in sommige pasinte voorkom.

Met verlies van groot hoeveelhede rooibloedselle ontstaan bloedarmoede wat die meeste van die simptome van bosluiskoors verklaar. Die dier se tand- en oogslymvliese word ligter van kleur en in erge gevalle selfs spierwit. Diere wat geelsug ontwikkel vertoon geel slymvliese - in wit honde mag selfs die vel geel vertoon. Met minder rooibloedselle wat suurstof na die weefsels kan vervoer, moet die hart en longe oortyd werk. In die meeste gevalle sal siek diere baie diep en vinnig asemhaal en so 'n dier se pols en hartklop sal ook baie vinnig wees.


Die geel hondebosluis

Fig. 2: 'n Skets van die geel hondebosluis Haemaphysalis elliptica (leachi) die draer van bosluiskoors


3. DIAGNOSE

'n Veearts neem gewoonlik 'n bloedsmeer om bosluiskoors te bevestig. Die organismes is baie klein (sowat 300 pas in 'n millimeter!), maar kan baie duidelik teen 'n duisend maal vergroting onder 'n mikroskoop gesien word. Uit die bloedsmeer kan ook afgelei word of die liggaam reeds nuwe rooibloedselle begin vorm het en tot watter mate die witbloedselle die parasiet beveg. Indien geen parasiete gevind word nie, moet ander oorsake van bloedarmoede oorweeg word.


4. BEHANDELING

Daar is verskeie middels beskikbaar wat die organismes doodmaak. Al die middels is in inspuitbare vorm en is almal baie gevaarlik indien nie reg toegedien nie. Newe-effekte sluit in: lewensbedreigende breinbloeding, nierversaking en afsterwe van weefsels. Al hierdie middels word derhalwe onder toesig van veeartse gebruik.

Die veearts sal dikwels kortisoon toedien om 'n ernstige komplikasie van bosluiskoors, waar die liggaam sy eie rooibloedselle afbreek, te verhoed. Yster en vitamiene word dikwels voorgeskryf om die liggaam te help om nuwe rooibloedselle te vorm. In gevalle waar geelsug voorkom, word ook middels gegee wat die lewer ondersteun.

Indien die bloedarmoede baie erg is, gewoonlik wanneer die dier minder as 'n derde van sy rooibloedselle oorhet, word 'n bloedoortapping gegee. Daar is agt verskillende bloedgroepe in honde, maar die meeste van die groepe is versoenbaar, dus word ongewenste reaksies selde gesien. 'n Bloedoortapping is egter relatief duur, maar het al menige geliefde hond van 'n gewisse dood gered.


5. VOORKOMING

Daar is vanaf September 2008 'n entstof teen bosluiskoors beskikbaar by u plaaslike veearts. Die belangrikste voorkomende maatrel is egter om honde so goed u kan bosluisvry te hou. Dit behels gereelde dip (weekliks in die somermaande) of die gebruik van langwerkende bosluisbande of aanspuitmiddels. Die hond se omgewing moet ook bosluisvry gehou word deur beddegoed gereeld te was en bosluisdoders in hondehokke te gebruik. Dit is egter baie moeilik om honde in hierdie warm klimaat algeheel vry van bosluise te hou, dus moet 'n siek dier so gou moontlik aandag kry. Die goeie nuus is dat die meeste honde wel immuniteit opbou teen bosluiskoors.


6. OPSOMMING

Bosluiskoors is in baie gevalle 'n dodelike siekte, maar in die meeste gevalle kan vroegtydige optrede 'n groot verskil maak. As daar goeie rens val in die voorjaar is bosluise en dus ook bosluissiektes die volgende somer 'n groot probleem. Ter wille van die mens se beste vriend word alle honde-eienaars gemaan om nie kanse te waag met allerlei boererate nie, maar hul diere so gou moontlik te neem vir behandeling. Daar moet ook hier melding gemaak word van bosluisbytkoors wat 'n totaal ander siekte is, maar wat soms saam met bosluiskoors kan voorkom hierdie siekte word in 'n aparte artikel bespreek.


Erkenning:

Fig 2: Wetenskaplike pamflet No. 393, Dept. Landbou-tegniese dienste, RSA 1983